Wie is ons?

Familiekerk NG Kameeldrif is geleë in die hartjie van die Kameeldrif-area. Ons roeping en identiteit is gewortel in die woorde van Matteus 28:19–20, waar Jesus ons stuur om sy dissipels te wees en ander te maak. Uit hierdie roeping leef ons ons waardes van Sagte Harte, Lewende Water en Helder Ligte.

Ons is ’n geloofsfamilie waar Christus sentraal staan, die Bybel ons riglyn is, en die Heilige Gees ons lei. Hier vind mense ruimte om God te aanbid, saam te groei in geloof, en mekaar in liefde te dra. Ons streef daarna om ’n oop en gasvrye huis van die Here te wees, waar almal welkom is en waar verhoudings gebou en versorg word.

As deel van die breër liggaam van Christus, glo ons dat ons geroep is om te dien in ons gemeenskap, om getuies van hoop en lig te wees, en om saam as familie God se koninkryk sigbaar te maak.

By Familiekerk NG Kameeldrift is jy welkom net soos jy is!

Ek wil graag meer uitvind via WhatsApp
Google Drive ImageGoogle Drive ImageGoogle Drive ImageGoogle Drive Image
Waterfall

Die week se lewemde water

Week 36

Liewe vriende Dit is amper onmoontlik om te glo, maar die derde kwartaal is amper op sy rug. Hoe het ons hier gekom? So vinnig? Hierdie is egter mos daardie grens van die jaar… Daardie tyd waar die jaar nog net te lank is om tot rus te kom, maar heeltemal te lank vir die Berocca tot jou beskikking – en natuurlik ook vir die vlakke van geduld! 😅 Dit is juis hierdie tyd van die jaar waar tydsbestuur ongelooflik belangrik raak. Daar is so baie wat ons wil doen, wat ons moet doen en dan, sonder om doekies om te draai, ook dinge wat eenvoudig ons tyd vat – skoolaktiwiteite, werksdruk en al die ander verantwoordelikhede wat op ons wag. Alles is belangrik. Alles is goed. Maar ons moet versigtig wees dat ons nie onsself en ons gesinne oor die muur dryf nie. Ek het vandag met iemand gesels wat dit vir my baie mooi gestel het: “Weet jy dat as jy vir iets ja sê, jy eintlik vir iets anders nee sê?” “Wat bedoel jy daarmee?” vra ek hom. “Wanneer ek ja sê vir ’n bier saam met kollegas ná werk, sê ek inherent nee vir tyd saam met my familie.” En dit geld vir soveel meer as net dit. Wanneer ek ja sê vir later werk, sê ek dalk nee vir tyd saam met my kinders. Wanneer ek ja sê vir nog ’n bietjie op my foon scroll, sê ek dalk nee vir ’n gesprek met my man of vrou. Wanneer ek ja sê vir nóg ’n verpligting, sê ek dalk nee vir broodnodige rus. Dit kan eintlik uitgebrei word na enige iets, nie waar nie? Ons almal ken die bekende woorde uit Prediker: Daar is ’n tyd vir alles. Ek glo egter daar is ook ’n tyd om nee te sê. En dit is nie altyd maklik nie. Prediker kom uiteindelik tot hierdie slotsom: “Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom.” Prediker 12:13 Jy sien, as die dinge waarvoor ons ja sê, ons tyd saam met die Here en ons gesinne begin steel, moet ons dalk twee keer dink voordat ons ja sê. Veral nou – in hierdie tyd van die jaar wanneer almal se batterye al ’n bietjie pap is en die gemoedere soms makliker hoog loop. Mag jy hierdie week besef dat tydsbestuur belangrik is. Maar mag jy ook ’n bietjie stadiger raak en twee keer dink oor die ja’s wat dalk nie nodig is nie. En mag jy leer om met vrymoedigheid nee te sê wanneer dit nodig is – sodat jy weer ja kan sê vir dit wat werklik belangrik is. ’n Ja vir iets is altyd ook ’n nee vir iets anders. Kies daarom mooi waarvoor jy jou ja gee. Groete Ds Drian

An unhandled error has occurred. Reload 🗙